Ek het in die onlangse verlede redelik rondgereis en staatgemaak op sosiale nutsprogramme (“apps”) om gastehuis en bed-en-ontbyt verblyf op verskillende plekke te bespreek. Ek het al vantevore van “Airbnb” gehoor, maar nie werklik besef hoe kragtig en uitstekend sulke programme kan werk nie (ek het vir my doeleindes van die Suid-Afrikaanse pasgemaakte “Lekkeslaap” netwerk gebruik gemaak). Buiten dat jy jou verblyf volgens smaak en sak kan kies, is die bespreking en betaling daarvan alles in ʼn oogwink afgehandel. Verder word bevestiging en adresbesonderhede elektronies uitgestuur, plus “reminders” ʼn enkele dag of twee voor jy by die betrokke plek sou oornag.
Soortgelyk vind ek die gebruik van die taxidiens nutsprogram “Uber” baie nuttig, waarskynlik net beperk tot die groter metropole, maar vir iemand soos ek wat ʼn doelbewuste besluit geneem het om my eie voertuig kilometers (en uiteindelik hoë verskuilde voertuigkostes en verkeerstres) te beperk en, waar ek kan, openbare vervoer of taxidienste te gebruik, is dit van onskatbare waarde. Met “Uber” weet ek weet wie die taxibestuurder is, hoe ver hy van my optelpunt is (GPS tegnologie), die beraamde koste van die rit, en ek hoef geen kontant vir die rit te betaal nie omrede die koste daarvan elektronies van my bankrekening verhaal word.
So is daar sekerlik nog hordes sulke nutsprogramme vir alledaagse gebruik beskikbaar en die koms van hierdie tipe programmatuur het die besluitnemingsproses met sulke kwessies (waar om te bly, waar om te eet, watter besienswaardighede om te besoek, ens.) oneindig vergemaklik.
ʼn Belangrike gemene deler van al hierdie hedendaagse nutsprogramme is dat daar ʼn kliënt-terugvoer graderingsisteem (“customer review rating”) bestaan wat jy kan raadpleeg alvorens jy jou finale besluit hoef te neem. Waarskynlik nog meer belangrik, is dat hierdie terugvoer redelik akkuraat is – byvoorbeeld, ʼn vier-ster gradering is inderdaad vier sterre werd – onthou hierdie gradering is die samevoeging van objektiewe opinies, soos deur vorige kliënte ervaar, en met geen ander bybedoelings as om eerlik hul persoonlike ervaring met ander te deel nie. Dit opsigself is meer werd as hordes foto’s of ʼn netjiese beskrywing van die goedere of dienste (bemarkingsbrosjures) waarin jy mag belangstel.
Verder, ʼn diens met top-gradering is geneig om dieselfde hoë standaarde met verloop van tyd te handhaaf. Dieselfde geld ten opsigte van dienste met swakker graderings, wat geneig is om dieselfde minder goeie aanslae met verloop van tyd te ontvang. Byvoorbeeld, navorsing in Amerika het bevind dat top universiteite/kolleges hul rangorde-posisies met verloop van tyd min of meer handhaaf, m.a.w. ʼn relatief-onbekende kollege sal nie uit die bloute ʼn top-tien posisie inneem nie, of ʼn top kollege sal nie dramaties uit die top posisies val nie. Soortgelyke ervarings is geldig vir restaurante, hotelle en verblyfplekke, vermaak, professionele dienste en goedere soos motorvoertuie, “wit goedere”, en nog vele meer.
Dus, dit maak baie sin om sulke objektiewe inligting na te gaan alvorens jy jou finale besluit sou neem. Trouens, sonder om te veel van jou eie tyd te spandeer, kan hierdie
terugvoer-sisteme eintlik as ʼn betroubare “kortpad” (heuristiek of “rule of thumb”) tot goeie besluite en uitkomste beskou word.
Die tipiese, rasionele besluitnemingsraamwerk wat ons in alledaagse omgewing toepas kan as volg beskryf word:
Identifiseer ʼn behoefte; doen navorsing en versamel inligting; evalueer alternatiewe; neem ʼn besluit; evalueer tevredenheid met aankope.
ʼn Betroubare “kortpad” soos kliënte-terugvoer en graderingsisteme van goedere of dienste ondervang baie van die vereiste navorsingswerk om by dieselfde antwoorde uit te kom. Anders gestel, en om my gesprek uiteindelik na beleggings te lei, historiese prestasie in ʼn “konstante” besluitnemingsomgewing is van onskatbare waarde om ʼn goeie besluit te kan neem. Dit is egter ongelukkig nie waar as dit by beleggings kom nie omrede ʼn top-presterende belegging onwaarskynlik nog steeds ʼn top-presterende belegging ʼn paar jaar later sou wees!
Lees verder hieroor: besluitnemingsraamwerk